Die veelparty-koalisie in Johannesburg, waarvan die VF Plus deel vorm, het die afgelope week besluit om die howe te nader nadat die ANC verskeie staatsinstansies soos die Openbare Beskermer (OB) misbruik het om ʼn Artikel 106-ondersoek te gebruik om die Johannesburgse metro onder administrasie te laat plaas in ʼn poging om beheer oor die metro te verkry.

Uhuru Moiloa, LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) van die Gautengse provinsiale regering, is deur die ANC gevra om die ondersoek te doen.

Die VF Plus is bewus daarvan dat ANC-kaders, wat aanvanklik deur die ANC as hoofsaaklik afdelingbestuurders in die metro aangesel is, ʼn kardinale rol in die proses gespeel het.

Daar was ook grootskaalse interne sabotasie deur die kaders wat nou ontbloot is. Dit sluit in vertragingstaktieke in die werksaamhede van die metro en die uitlek van inligting na die ANC.

“Moiloa se ondersoek teen die stad is vol krake en voetfoute omdat hy onder meer nie die nodige prosesse in die ondersoek volg nie,” sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid in Johannesburg.

De Lange sê die ANC het ook probeer om sy saak te versterk deur die hulp van die Valke in te roep om burgemeester Herman Mashaba te ondersoek.

Die ondersoek behels ʼn voorstel van Mashaba om moontlik die dienste te gebruik van ʼn nie-winsgewende regeringsorganisasie, die Field Band Foundation wat dwelm- en drankmisbruik beveg.

Die metro se departement van gesondheid en sosiale ontwikkeling het die keuringsproses hanteer en die organisasie het geen voorkeurbehandeling ontvang nie. Die organisasie is uiteindelik as een van die beste kandidaat-organisasies vir die projek aangewys.

Mashaba was geensins by die finale aanwysingsproses betrokke nie.

Red Gauteng Die VF Plus se 10 punt plan 2

Die ANC het ook die kantoor van die OB genader om presies dieselfde klagtes wat hy by Cogta ingedien het, te ondersoek. Die koalisie het al die antwoorde op die vrae van die OB verskaf en al die relevante dokumentasie oorhandig om die ANC se bewerings te weerlê. Die OB se finale bevinding word nog afgewag.

“Die gebeure maak dit duidelik dat die ANC desperaat is om sy vingers terug in die metro se geldlaai te kry. Dit is ‘n feit dat die Johannesburgse metro nou die mees ondersoekte munisipaliteit in die land se geskiedenis is.

“Hierdie is die groot rede hoekom die koalisie nou die howe gaan nader.

“Dit is ooglopend dat die Mafia-taktiek van die ANC niks anders as politieke inmengery is nie. Na die veelparty-koalisie se oorname in 2016 het die ANC se beursie ʼn groot knou gekry. Die metro se forensiese departement ondersoek tans voorvalle van moontlike bedrog ter waarde van R19,5 miljard wat onder 22 jaar van ANC-regering in die metro gepleeg is.

“Die VF Plus sal ook as deel van ʼn veelparty-koalisieregering sy deel bydra om terug te slaan teen ANC-vergrype ten koste van die inwoners van Johannesburg,” sê De Lange.

Pin It on Pinterest

Share This